Alfie Adamson 

 

10 Aug 2011

  1.  Bly agter in Polisiekollege na Desember 1974 as ‘n voetdril instrukteur. Werk met ‘n troep tot Maart 1975 en kry daarna 'n verplasing na Caledon Plein in Kaapstad. Te jonk om vuurwapen te dra en werk in die Aanklagkantoor tot ek 18 is in Junie 1975. Toe stap ek beat vir 2 jaar in die middestad tot ek later voertuig patrollie gedoen het. In 1978 kry ek ‘n verplasing na Pinelands Radiostasie toe, waar ek gewerk het tot September 1978.
  2. Ek trou toe met ‘n poldoedie van Kaapstad, Wilma Benade, en ons twee word toe verplaas na Kriel in die Oos Transvaal waar haar pa ‘n plaas gehad het. Die getroude lewe en ‘n polisieman se salaris was egter nie genoeg nie, en in Januarie 1979 koop ek my ontslag en begin my lewe van voor af in Stilfontein.
  3. In Januarie 1979 begin ek werk by Hartebeestfontein Goudmyn as ‘n monsternemer, later as surveyor en in 1982 kry ek my skietsertifikaat om ondergrondse plofstof skietwerk te doen.

  4. Ek doen toe groot tonnel skietwerk vir 6 jaar tot in 1988 waar ek my toe kwalifiseer as ‘n Myn Opsigter (Mynkaptein) en, “ever-since”, is ek maar besig daarmee.

  5. In September 1979 is my eerste dogter (Llani) gebore. In 1983 my tweede dogter (Stephanie) en in 1991 my seun (Xander). Ek, Wilma, Llani en Stephanie(Protea) het almal provinsiale kleure in Tafeltennis en ek was ook die Vise President van die Suid Afrikaanse Tafeltennis Raad.

  6. In 1997 is ek en Wilma geskei en in 2003 is ek met Linda getroud. Sy het twee kinders uit haar vorige huwelik gehad (Heinrich en Zonique), wat ons toe so saam-saam grootgemaak het.

  7. Ek het al die jare geweldige heimwee gehad oor ons troep, en in 2011 besluit dat dit nou naby ons almal se pensioenjare kom en dat dit nogal interesant sal wees vir almal om die herinneringe saam te vat op ‘n webtuiste genaamd www.sapcollege1974.yolasite.com asook op Facebook.

  8.  

 

 Alfie Adamson - 8 August 2011 :-

  1. Ek kan onthou hoe die manne op die trein op pad Pretoria toe, 'n paar bottels KWV skoon uitgedrink het. Daar was toe al 'n paar stoute manne op daai trein wat nie einde geken het nie. Julle moet weet dat op daai stadium was ons almal tussen 16 en 18 jaar oud en dit was die eerste wegbreek van ons ouers af.
  2. Ou Beesboer met sy gimnas lyf was altyd die groot bespreking onder ons jong laaities en ek glo almal het daai tipe van bou begeer. As ek net dink hoe hy 'n tou kon klim en hoe ons ander gesuffer het, kan julle verstaan hoe fiks en geoefen hy moes gewees het. Ja, hy was een van die puikste troepleiers vir 'n puik troep ouens van die Kaap af.
  3. Adrie Nel was seker die oudste in die troep en wat 'n voorbeeld was hy nie vir ons met sy blink gepoleerde skoene en ander leer toerusting nie. Die ouens het hom altyd gaan vra wat hy doen en hoe hy dit regkry om sy goed so blink te kry. Sy antwoord was altyd dat dit geduld en baie tyd vat.
  4. Spokie Nieuwoudt het reg oorkant my geslaap en ons grootste fun was om hom te sien opspring as die opstaan sirene afgegaan het. Hy sou die komberse met geweld van hom afgooi, lyk of hy 'n spook gesien het, rondskarrel om sy toiletware bymekaar te kry en dan met 'n spoed badkamers toe genael het. Vandaar sy bynaam Spokie.
  5. Ek onthou nog hoe ons klomp studente een aand met ete, ongelukkig geraak het met die sogenaamde perdevleis (niemand kon dit bewys nie) wat aan ons voorgesit was. Die studente het begin die geluid van treinwiele op spore met hul messe op die tafels te kap en groot onrus veroorsaak.

This free website was made using Yola.

No HTML skills required. Build your website in minutes.

Go to www.yola.com and sign up today!

Make a free website with Yola